Geloofbelydenis


Ons glo in een God wat vir ewig bestaan as drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees.

 

1.    Ons glo in die oorspronklike geskrewe,  God -geinspireerde Ou- en Nuwe Testament, bestaande uit die ses-en-sestig kanonieke boeke van die Bybel. Ons aanvaar dit as die hoogste en finale gesag vir geloof en lewenswandel.

2.    Ons glo in een God wat vir ewig bestaan as drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees.

3.    Ons glo in Jesus Christus wat van God ontvang en deur die Heilige Gees verwek is en gebore is uit die maagd Maria. Ons glo dat Hy waarlik God is en waarlik mens geword het . Hy het ‘n sondelose lewe gelei.

4.    Ons glo dat die mens na God se beeld geskape is, maar dat deur die mens se oortreding hy van God geskei geraak het. Almal wat die ouderdom van morele aanspreeklikheid (toerekeningsvatbaarheid) bereik is self vir hulle sondige dade verantwoordelik.

5.    Ons glo dat Jesus Christus , volgens die skrif, vir ons sonde as plaasvervangende offer gesterf het en dat elkeen wat in Hom glo geregverdig is op grond van Sy gestorte bloed.

6.    Ons glo dat Jesus Christus fisies (liggaamlik) uit die dood opgestaan het en na die hemel opgevaar het en dat Hy nou as ons Hoëpriester en ons Voorspraak leef.

7.    Ons glo in die persoonlike wederkoms van die Here Jesus Christus.

8.    Ons glo dat almal wat Jesus Christus in die geloof aangeneem het en hulle van hulle sonde bekeer het, deur die Gees wedergebore is en daardeur kinders van God word.

9.    Ons glo in die doping van die Heilige Gees, wat ons met krag beklee en ons toegang gee tot die gawes van die Gees waarmee ons ons dienswerk kan verrig. Ons glo in die God-ingestelde bedieninge van die Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar.

10.  Ons glo in die opstanding van beide die regverdige en die onregverdige, die ewige geseëndheid  van die vrygekooptes en die ewige verbanning van almal wat die gawe van verlossing verwerp het.

11.  Ons glo in die beginsel van die visionêre leier  van die gemeente/bediening wat deur God as leier daargestel is en wat saam met 'n meervoudige leierskap funksioneer. Die visionêre leier is die primus inter parus (“eerste onder gelykes”). Meervoudige leierskap bestaande uit die visionêre leier  saam met aangestelde ouderling, maak voorsiening vir die nodige wigte en teenwigte  vir gesonde leierskap.

12.  Ons glo dat die leierskap van die kerk die verantwoordelikheid dra vir die toesig en sorg van die lidmate en personeel. Waar nodig moet die leierskap Bybelse dissipline vir die beskerming van die plaaslike kerk toepas.

13.  Ons glo dat die een ware Kerk  die hele gemeenskap is van die wat deur Jesus Christus verlos is, en wedergebore is deur die Heilige Gees; asook dat die kerk op aarde die karakter van die Hemelse Kerk moet aanneem. Daarom is die wedergeboorte en die persoonlike belydenis van Christus noodsaaklik vir kerklidmaatskap.

14.  Ons glo in die beginsel van ‘n heteroseksuele verhouding tussen ‘n natuurlike man en natuurlike vrou binne die grense van ‘n wettige huwelik.

15.  Ons glo dat die Here Jesus Christus twee verordeninge ingestel het – die Doop in water en die Nagmaal, wat as gehoorsaamheidstappe onderhou moet word tot ‘n ewige getuienis aan die belangrikste feite van die Christelike geloof. Die doop is die onderdompeling van die gelowige in water as belydenis van sy of haar identifikasie met Christus se dood en opstanding, en die Here se Nagmaal is die deelname aan die elemente wat simbolies is van die Verlosser se gebroke liggaam en gestorte bloed, herinnering aan Sy offerdood totdat Hy kom.

16.  Ons glo dat daar in die Ou Testament voorsiening vir Goddelike genesing gemaak is en dat Goddelike genesing ‘n integrale deel van die Evangelie uitmaak.

17.  Ons glo die Bybel leer ons dat sonder heiligmaking niemand die Here sal sien nie. Ons glo in die leer van heiligmaking as ‘n defnitiewe, dog progressiewe werk van genade, wat by die nuwe geboorte begin wat voortduur tot en met die voltooiing van ons verlossing.

18.  Die Kerk is oop vir verdere waarheid, wat die Heilige Gees vanuit die skrif  mag verlig. Ons glo dat die Heilige Gees openbaring nie die gevestigde Bybelse waarhede  en waardes sal weerspreek nie en en dat met die karakter van die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, sal ooreenstem.